AFRIKANER MOORD?


Heelwat gerugte doen die ronde van ‘n “nag van die lang messe” wat vir blankes gaan aanbreek met Mandela se dood. Self staan ek baie skepties teenoor dié soort alarmistiese riemtelegramme.

Al word hul eie kinders gekaap of vermoor, gewaar hulle niks rondom hulle wat fout is nie. Dit was letterlik die geval met Tim du Plessis van Rapport se seun, wat in Johannesburg gekaap en ontvoer is, maar hy skryf Sondag ná Sondag steeds lofliedere aan die ANC en die Nuwe Suid-Afrika. In die abnormale sielkunde bestaan daar iets soos die “Stockholm-sindroom”, só genoem ná ‘n insident in 1973 toe gyselaars in ‘n bankroof in die Sweedse hoofstad ná ses dae met hul folteraars begin identifiseer het en ook geweier het om teen hulle te getuig.   Gyselaars in só ‘n situasie weier om gered te word, omdat hulle vrees dat enige reddingspoging geweld teen hulle sal ontketen. Ook word klein gebare van simpatie of genade van die geweldenaars geïnterpreteer as tekens van hul goeie inbors en medemenslikheid. Ons hoor só dikwels kaperslagoffers in Suid-Afrika sê, “maar gelukkig het hulle my nie doodgeskiet nie.”

Krygsgevangenes, oorlewendes van konsentrasiekampe, kapingslagoffers, gyselaars en ander toon dikwels simptome van die Stockholm-sindroom. In sielkundige terme verteenwoordig dit ‘n “afweermeganisme” wat die slagoffer teen die nare werklikheid moet beskerm. Dis ‘n manier om die angs en vrees van so ‘n situasie te verwerk.

Die Stockholm-sindroom verklaar die bisarre gedrag van ons wêreldvreemde optimiste wat alle negatiewe inligting wat hul sintuie en gesonde verstand aan hulle kommunikeer, uitfiltreer om net daardie klein genadegebaartjies van byvoorbeeld die ANC-regering raak te sien. “Ons is só gelukkig, ten minste het hulle nie alles genasionaliseer nie.” Of: “Ons word nog toegelaat om Afrikaanse skole te bedryf.” Vir die lyer aan Stockholm-sindroom is daar altyd ‘n silwer randjie, al is die wolk hoe donker.

Onder andere is daar vyf dinge wat my tans baie onrustig stem, en dit is die volgende:

1. Mbeki raak al hoe radikaler in sy weeklikse uitsprake op ANC Today. Onlangs het hy die “massas van Afrika” opgeroep om “op te staan en hul waardigheid te herwin.” Die ANC-leier se masker is besig om meer en meer van sy gesig af te gly, want benewens die outydse kommunistiese retoriek waarin hy verval, praat hy deesdae toenemend in ‘n kodetaal wat sinspeel op ‘n gewelddadige revolusie of tsjimoerenga soos ons in Zimbabwe gesien het. 

2. Die nuwe wapenwet waarvan die oogmerk duidelik is om die meeste wettige wapeneienaars te ontwapen of om dit só moeilik te maak om wapens te besit dat die meeste mense maar die gedagte sal laat vaar. 

3. Die grondonteieningswet wat dit moontlik maak om plase sonder appèl na die howe af te vat, wat die deur oopmaak vir grootskaalse grondroof in Suid-Afrika. 

4. Die openlike samewerking tussen die ANC en ZANU-PF, waaroor daar tien dae gelede in die Sunday Times berig is en wat verkiesingsteun aan die Zimbabwiese “susterparty” tydens aanstaande jaar se parlementêre verkiesing in daardie land gaan behels. 

5. Die nuus wat begin vandeesweek uitgelek het dat die ANC-bewind beplan om die oorblywende kommando’s summier af te skaf, eerder as om hulle oor ‘n sesjaarperiode “uit te fasseer” soos aanvanklik belowe is. Volgens ‘n voorbladberig in ThisDay sal ‘n geheime plan om van die kommando’s ontslae te raak later vandeesmaand deur die polisie en weermag oorweeg word, waarna dit aan die ANC-kabinet vir goedkeuring voorgelê sal word.

Noem dit paranoia of wat u wil, maar vir my gaan dit bloot om dit wat in sakejargon “gesonde risikobestuur” genoem word. Miskien is daar geen bedreiging nie en leef ons in ‘n land van maanskyn en rose soos die hoofstroompers elke dag vir ons skilder. Maar indien ons nie ag slaan op die tekens van die tye nie en agterna uitvind dat ons ergste vrese bewaarheid word, gaan vir ons vir ewig spyt wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s